Pauwkop Game Breeders

Die teel van goeie kwaliteit Zambiese Swartwitpense, die bul is `n seun van "Jackpot"

Email Us Gallery

 14 km buite Delareyville op die Vryburg (N14) pad (Noordwes - Provinsie)

Jy kan net redelike resultate bereik met jou swartwitpense of jy kan uitstekende resultate bereik met die teel van jou swartwitpense deur die korrekte beplanning te doen voordat jy hierdie diere aanhou. ‘n Natuurlike omgewing en habitat wat geskik is vir ‘n spesifieke diersoort lewer beter resultate vir die wildteler as ‘n klein onnatuurlike kampie wat geen of min habitat bied wat die spesifieke dier in die natuur sou verkies. Swartwitpens is immers nie ‘n maklik aanpasbare dier nie en verkies juis spesifieke toestande in die natuur, daarom dat hulle getalle in die natuur begin kwyn het. Verswakte veld en bosverdigting is deels van die redes hoekom die swartwitpens se getalle op ‘n stadium (voor die groot teeltendens) krities laag begin draai het.

Kom ons kyk na die habitatbehoeftes van die swartwitpens.

In die natuur:

Swartwitpens kom natuurlik in die savanna areas van Suider-Afrika voor. Dit is ‘n spesie wat savanna verkieslik waar langer grasse voorkom. Hierdie diere word dikwels in die natuur in die omgewing aangetref waar goeie veldtoestand voorkom en minder beweiding deur ander wild plaasvind. Die langer, klimaksgrastoestande waarvan hulle hou is dikwels ook gekombineer met vleiareas of grasveldareas. Oorbenutte toestande word vermy op die teelplaas: Swartwitpens neem ‘n fraksie van die voer in wat ‘n buffel sou inneem, daarom is dit makliker om vir hierdie diere goeie gehalte voer te gee indien die kwaliteitweiding nie beskikbaar is nie. Nietemin, floreer hierdie diere wanneer daar goeie habitat met geskikte voerkwaliteit weiding aan hul gebied word.

Weiding:

Swartwitpens is baie kieskeurige grasvreters en word daarom geklassifiseer as selektiewe grasvreters. Soos reeds genoem vermy hulle kort afgeweide areas en verkies hul die langer grasse. Hulle vreet ook gewoonlik nie laer as ongeveer 5cm bokant grondvlak nie en sal meestal op medium tot hoër hoogtes van tot 20cm bokant die grond die groenste blare van die sekere graspolle uitsoek. Grasse wat hoë veselinhoud het word vermy en grasse met hoër proteieninhoud word uitgesoek. Grasse wat verkies word stem dikwels ooreen met die deur buffel verkies en sluit onder andere in – Panicum maximum (wit buffel), Digitaria eriantha (raai gras), Brachiaria nigropedata (swartvoeitjie gras), Eragrostis curvula (oulands gras), Themeda triandra (smutsfinger), Urochloa oligotricha (signal gras) en Heteropogon contortus (assegaai gras). Sekere grassoorte wat bykans nooit deur ander spesies gevreet word nie, word ook deur hulle benut en sluit in Hyperthelia dissoluta (geeltaboekie gras), en Eragrostis gummiflua (gom gras). Gebrande veld word dikwels vermy. Die ideale areas waar hulle gesien kan word is dikwels naby vleie aangesien baie van hierdie bogenoemde grassoorte daar voorkom. Die ideale kamp vir hierdie diere is die een waar min beweiding plaasvind en grasse redelik lank en onbenut is. Goedgedreineerde grond word ook verkies bo kleierige grond.

Proteïenintoleransie:

Verder is swartwitpense proteïen intolerant. Tog is dit `n uitdaging om die regte voedding te gee en veral om bulle en stoetdiere ter wille van horinggroei nie oormaat proteïene te voer nie. Dit is iets wat hulle metabolisme irriteer en dus onmiddellik iets wat hul minerale en voedingsopname en daarom gesondheid uitdaag.

Boomsamestelling:

Swartwitpens vreet baie min aan bome en struike en sal moontlik net aan die einde van die droë seisoen ‘n bietjie blare inneem waarvan Acacias (soetdoring boom), Ziziphus mucronata (wag - `n - bietjie), Tarchonanthes camphorates (wildekamferbos)  en sommige Grewias. Die boomspesies in hul habitat is dus nie baie belangrik nie. Die struktuur van bome en bosse speel wel ‘n rol in hul habitatvoorkeur aangesien swartwitpens dit verkies om in oop habitat tussen bome of self onder groter bome met minder onderbos te kan beweeg. Digte bos word meestal heeltemaal vermy.

Alhoewel swartwitpens van oop veld hou en wel grasveld benut, is dit nie raadsaam om hul net op oop grasveld te hou nie en moet daar in ten minste 50% van die kamp ‘n redelike boombedekking wees. Enkele gevalle is al aangeteken waar swartwitpens tydens baie warm somers in ‘n digte bos inbeweeg het maar in hierdie gevalle het hul nie baie tyd hier beweeg nie. Tydens stof storms skuil hulle ook in die bos gedeeltes.

Watervoorsiening:

Swartwitpens drink gereeld water, definitief een maal per dag (tot 9 l water) in die dag. Hierdie diere gaan ook nie ver wegbeweeg van die water af nie en in die natuur word hul selde ooit verder as 3km van water aangetref. Soos buffel verkies hulle ook om in water in te stap wanneer hul drink en daarom moet die drinkplek verkieslik op grondvlak wees en ‘n geleidelike helling hê. Twee waterpunte per trop is ook meer geskik en deur die een waterpunt toe te maak en ‘n ander oop, gaan die potensiële lading parasiete by een fokuspunt ook tot ‘n mate uitgeskakel of verminder word. In groter stelsels waar meer as een dominante bul aangehou word, is dit kardinaal dat twee of meer waterpunte teenwoordig moet wees om onnodige aggressie by water uit te skakel (in bykans alle gevalle word egter slegs een bul per kleiner kamp aanbeveel)

Vuur:

Behoorlike brandbane (skoon heinings) en afsnypunte rondom en selfs in die kamp is ‘n vereiste sodat effektiewe brandbeheer toegepas kan word.Soos met buffel gaan die areas met die beste en langste gras op die plaas aan hul voorsien word, en is die kans vir ernstige warm vure groter in die areas waar hul loop. Sou ‘n brand deur hul kamp beweeg, is daar ‘n gevaar dat diere kan doodbrand.  Soos reeds genoem is dit beter dat daar nie beheerde brande in ‘n kamp toegepas word waar swartwitpens loop nie aangesien hul nie hierdie gebrande areas verkies nie. Hul sal wel gebrande veld waar ‘n mate van groei al voorgekom het, benut.

Grootte van die kamp:

Soos met enige dier is dit beter om nie hierdie diere te intensief aan te hou nie veral weens opbou van parasiete, veral rondom voerplekke en water. Swartwitpens hou nie van te hoë getalle wild in hul omgewing nie en die ernstige boer sal eerder hierdie diere alleen in die kamp aanhou. Die aanbevole grootte van die kamp vir ‘n troppie van 8 tot 12 swartwitpens moet eerder nie kleiner as 35 hektaar wees nie en dan moet al die veld geskik wees vir hierdie diere. Bewaringsowerhede in meeste provinsies beveel 400 hektaar aan as ‘n minimum grootte vir die aanhou van swartwitpens.

Swartwitpense is hiperintelligente diere en bulle soms ook aggresief!

A male regularly patrols his territory and engages in ritual displays. He paws the ground, deposits dung and horns the ground, spreading his scent around to make his presence known.