HOENDERLEWERS MET SAMPIOENE

HOENDERLEWERS MET SAMPIOENE
Ek kry dikwels die vraag of mens hoenderlewers op 'n LowCarb Dieet mag eet - ja jy mag! En as jy van hoenderlewers hou, is dit 'n moet ook. Hoenderlewers is hoog in foliensuur, sink, Vitamien A en koper - en dit is 'n baie bekostigbare bron van proteien. Hierdie resep is regtig heerlik. Eet dit oor Kamma Rys, Kamma Noedels of selfs geroosterde LowCarb Brood.

700 g hoenderlewers, skoongemaak
1 klein lourierblaar
30 ml olie
2 knoffelhuisies, fyngemaak
150 g uie, gekap
250 g sampioene, in repies gesny
1 ml borrie
45 ml suurlemoensap
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Baie mense glo mens moet hoenderlewers eers vooraf kook voordat dit in 'n gereg gebruik word - dit maak die lewers skoon (en dit ruik beter). Indien jy dit wil doen, maak so: Bring 7 koppies water en die lourierblaar in 'n groot kastrol tot kookpunt. Voeg die lewers by en kook vinnig vir ongeveer 2 minute - wanneer daar skuim bo-op vorm is dit reg. Skep die lewers uit en hou eenkant.
Verhit die olie in 'n kastrol. Voeg die knoffel en uie by en soteer tot goudbruin en sag. Voeg die sampioene by en braai tot sag. Voeg die lewers by, asook die borrie, sout en peper. Roerkook die lewers vir 2-4 minute tot die lewer net gaar is (as lewers te lank gaargemaak word, word dit taai). Roer die suurlemoensap by. 
Bedien warm.